Die Rooivleis Produsente- Organisasie (RPO) het vir Agri Inspec, ‘n onafhanklike maatskappy sowat ‘n jaar en ‘n half gelede gekontrakteer om ʼn ondersoek te doen na moontlike ongerymdhede met betrekking tot die invoer van speenkalwers vanuit Namibië.
‘n Verslag van Agri Inspec aan die RPO het die volgende probleme uitgewys:
·Vee word teen dieselfde bedrag verklaar
·Volwasse beeste word verklaar en geprys as speenkalwers
·Getalle word onderverklaar
·Speenkalwers word onderwaardeer
·Probleme bestaan met betrekking tot onvolledige dokumentasie in sommige gevalle word geen getalle of waardes verklaar nie.
Die Suid Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het verskeie ondersoeke geloods na aanleiding van inligting wat deur Agri Inspec aan hulle voorsien is en die ondersoeke duur voort. Die inligting is uit vier verskillende bronne bekom.
Inligting wat tydens die speenkalfondersoek op die grensposte met Namibië verkry is en aan die (RPO) uitgewys is, dui daarop dat daar nie net probleme met die invoer van speenkalwers bestaan nie, maar waarskynlik ook met die invoer van vleis en skape vanaf Namibië.
Die inligting oor die ongerymdhede sal eersdaags oorhandig word aan die vervolgingsgesag van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en ’n afspraak met die SAID is reeds gefinaliseer.
Agri Inspec het ’n persverklaring oor die onwettige vee- en vleisinvoere uitgereik waarop die Vleisraad van Namibië gereageer het deur te sê dat die Vleisraad by verskeie geleenthede Agri Inspec en die instansies wat Agri Inspec aangestel het en hul verslae ontvang het, versoek het om die beweringe te staaf. Die Vleisraad van Namibië het verder gesê dat omdat hulle niks ontvang het nie hulle dus die beweringe weerlê. Sedert die ondersoeke geloods is, is daar ook ʼn duidelike prysaanpassing ondervind in die prys van ingevoerde speenkalwers en invoerbeheer ten opsigte van skape en rooivleis het ook drasties verbeter.
Die RPO het sedert April 2010 verskeie versoeke aan die Namibiese Vleisraad gerig om gesprek te voer oor die invoere van lewendehawe en lewendehaweprodukte van en na Namibië. Die RPO het dit verder duidelik gestel dat die verslae en inligting van Agri Inspec by die vergadering beskikbaar gestel sal word indien ʼn vertroulikheidsooreenkoms oor die inligting bereik kon word. Die Vleisraad van Namibië het nie sy weg oop gesien om die gesprek toe te staan nie.
Daarom het die RPO besluit om ʼn gesprek met verteenwoordigers van die Lewendehawe Produsente Organisasie (LPO) van Namibië aan te vra. Die gesprek is gehou op 9 Augustus 2010. Die gesprek het gefokus op die bewyse van Agri Inspec, grenskontrole, dieresiektebeheer en die Namibiese kleinveeskema. Tydens die vergadering het die RPO die LPO voorsien van ’n vertroulike verslag oor bevestigde inligting van die SAID ten opsigte van oortredinge in terme van speenkalfinvoere vanaf Namibië wat tydens 2008 en 2009 begaan is.
Tydens die gesprek was daar konsensus tussen die LPO en die RPO dat:
·Al twee organisasies daarna strewe om ongerymdhede uit te skakel en markverwringing te voorkom
·Daar probleme is ten opsigte van grenskontrole en dat dit dringende aandag moet geniet
·Die LPO en RPO verdere gesprek hieroor sal voer
·Daar begrip is by die RPO dat die Namibiese bedryf ’n wesenlike gedeelte van die Suid-Afrikaanse mark voorsien.
Die hele kwessie van die betrokkenheid van Agri Inspec by die monitering van die invoere van lewendehawe en lewendehaweprodukte vanaf Namibië is op 17 September 2009 deur die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsforum bespreek. Die forum het met kommer kennis geneem dat daar forensiese bewyse is dat ongerymdhede bestaan ten opsigte van die invoere vanaf Namibië. Die forum het ook kennis geneem van ’n skrywe aan die RPO deur die SAID wat die ongerymdhede bevestig. Die forum het sy ondersteuning aan die RPO verleen om voort te gaan met sy invoermoniteringsaksies namens die totale bedryf en het ook die ondersteuning van die Compliance Committee van die forum aangebied om die ernstige probleme op te los.
Verdere gesprek tussen die LPO en die RPO sal eersdaags gevoer word. Tydens die gesprek sal die RPO meer as 6 000 gerekenariseerde invoerdokumente aan die LPO op ‘n vertroulike basis voorlê wat as bewys dien van die ongerymdhede.
Navrae:
Gerhard Schutte – HUB Nasionale RPO – Sel: +27 (0) 82 556 7296
Arnold Brand – Voorsitter Nasionale RPO – Sel: +27 (0) 83 285 7812
Lardus van Zyl – Vise-Voorsitter Nasionale RPO – Sel: +27 (0) 82 944 7099